Wysheid oor die grysheid

 
 
Gedurende my kinderjare was daar baie min bejaardes. Vandag het die situasie verander. In winkels, op strate, in ons kerke is die witkoppe feitlik oral oorheersend. In ons dorpe en stede rondom ons skiet aftreeoorde en ouetehuise op soos paddastoele. As ons kyk na gemeentes se samestelling van lidmate (in SA en die UK), sou ons verwag dat die klem vandag in die kerklike bediening op bejaardesorg sou val. In baie gemeentes gebeur dit. In baie gevalle word feitlik niks in hierdie verband gedoen nie.

Die behoeftes van bejaardes is egter meer as net finansieel. Baie bejaardes voel die woorde van Prediker 12 aan die lyf: hande bewe, bene beweeg moeilik, kan nie meer behoorlik kou nie, oë moet twee maal kyk om te sien, hande is altyd by die ore om goed te kan hoor, stem is dof, slaap is min. Hierdie feitlik opgebruikte liggaamsdele veroorsaak dat die ou mensies bang en onseker is oor feitlik al die aspekte van die lewe. Daarby dra talle die smart oor die verlies van ’n lewensmaat, oor kinders en kleinkinders en vriende wat nie meer daar is nie of ver in ’n ander land woon. Dan is daar ook nog die onsekerheid oor en die vrees vir die daagliks veranderende samelewing met politieke ontstuimigheid, en by dit alles die dood wat nader is as ooit tevore.

Mag dít nooit van ons gesê word nie: Julle het my verwerp toe ek oud geword het, my alleen gelaat toe my kragte ingegee het (Ps 71: 9 en 10).

(Erkenning aan Prof Bieks Beukes (Emeritus))

Gebed…
Here, ek is een van die mense wat oud genoem word.
Ek lewe in die aand. Nie lank nie, dan is dit nag.
Laat my in my laaste treë nie alleen nie.
My lewe het eenmaal waarde en sin gehad.
Ek het gewerk, gelei, invloed uitgeoefen.
Wat ek gedoen het, skuif weg, al hoe verder weg.
Ek bid U, bewaar my van bitterheid,
Van die drang om my kennis en my kranigheid te bewys,
Van die gevaar om te sê dit was alles reg.
Ek wil leer om te laat los.
Ek wil my op niks anders as u goedheid verlaat nie.
Laat U my nie los nie!
Amen.

Jörg Zink (Uit: ’n Keur van wysheid, Nina Smit, 2004)
 
Andrè


 

Vorige Briewe 

Jesus se Hemelvaart
Vir elke Christen is Hemelvaart 'n bron van hoop en versekering. Dit dui op Jesus se volharding en oorwinning oor die sonde, dood en die magte van die duisternis. Soos Hy opgevaar het, het Hy die weg gebaan vir ons om met God versoen te word. More ...
Ewige God van die Woord
Ons loof en dank U, o God, dat U nie 'n swygende God is nie, maar dat U deur U Woord in U taal van liefde met ons praat. More ...
Die prys van woorde
God het nie net gepraat oor onvoorwaardelike liefde, vergifnis en verlossing van die wêreld nie, Hy het dit tot uitdrukking laat kom deur Sy Seun Jesus Christus. Laat toe dat Hy gehoor word in elkeen van jou woorde. More ...
Die Woord as Waarheid
Volgens Calvyn gee die Skrif ons 'n reddende kennis van God, maar slegs wanneer die sekerheid daarvan "gegrond is op die innerlike oortuiging van die Heilige Gees." More ...